Pasta bly ‘n gunsteling en dié lekker goedkoop ete is ‘n staatmaker vir middel-van-die-week-kos, wanneer tyd aan die min kant is om by die winkel in te draf vir vars bestanddele. Almal van ons het immers altyd ‘n kwota geblikte tamaties in die koskas. Sorg net ook vir olywe en kappertjiesade wanneer jy jou maandelikse inkopies doen. Dit gaan nie doodsake wees as die sous nie ansjovis in het nie. Harde kase soos parmesaan en pecorino hou maande lank in die yskas.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 20 minute

60 ml (1/4k)  olyfolie

45 ml botter

3 knoffelhuisies, fyn gekap

4 ansjovisfilette (opsioneel)

150 g swartolywe, ontpit en gehalveer

1 blik (410 g) geblikte Italiaanse tamaties

30 ml (2 e) kappertjiesaad, afgespoel

½ rooi brandrissie, ontpit en fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

500 g spaghetti

30 ml (2 e) gekapte, vars pietersielie of basielkruid

Vars pecorino-kaas (parmesaankaas se goedkoper boetie) vir bo-oor rasper

Verhit die olie en botter in ’n groot pan oor matige hitte en soteer die knoffel en ansjovis tot die knoffel begin verkleur en die ansjovis fyn is. Voeg die olywe, tamaties, kappertjiesaad en brandrissie by en laat prut 20 minute. Geur met sout en peper. Maak intussen die spaghetti gaar volgens die aanwysings op die pak. Dreineer en voeg die gaar pasta by die sous in die pan. Laat prut ’n paar minuteen skep in ’n warm opdienbak of in vier borde. Sprinkel pietersielie of basielkruid oor en sit voor met pecorino-kaas.