Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 30-40 minute

SOUS

30 ml (2 e) olyfolie

1 ui, in skywe gesny

1 klein rooi soetrissie, in repies gesny

1 blik (410 g) pynappelstukke

50 ml tamatiesous

50 ml sojasous

15 ml (1 e) sagte bruinsuiker

30 ml (2 e) olie

BESLAG

440 ml bier

500 ml (2 k) bruismeel

3 ml (ruim ½ t) mosterdpoeier

5 ml (1 t) sout

vars gemaalde swartpeper na smaak

VLEIS

800 g beenlose varkvleisblokkies

sout en vars gemaalde swartpeper

60 ml (¼ k) mielieblom

olie vir diepvetbraai

VIR VOORSIT

300 g Oosterse noedels, gaargemaak

  1. SOUS Verhit die olie en roerbraai die ui en soetrissie ’n paar minute. Voeg die pynappelstukke en -sous by en braai nog ’n minuut.
  2. Meng die res van die bestanddele en giet dit by. Bring die sous tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut sowat 5 minute. (As die sous te loperig is, roer 10 ml mielieblom, opgelos in 30 ml water, by.)
  3. BESLAG Meng die beslag se bestanddele.
  4. VLEIS Geur die vleisblokkies met sout en peper en rol elkeen in mielieblom. Verhit genoeg olie (sowat 10 cm diep) in ’n kastrol tot goed warm.
  5. Doop ’n paar blokkies op ’n slag in die beslag en braai tot goudbruin en gaar, skep uit met ’n gaatjieslepel en dreineer op kombuispapier.
  6. VIR VOORSIT Skep die gebraaide varkvleisblokkies by die sous. Sit voor saam met noedels.