Die meeste kinders is lief vir roerbraairys en dit maak ’n heerlike, vullende kosblikete, veral vir ’n ligte middagete. Berei dus sommer ’n dubbele hoeveelheid vir aandete en hou die helfte vir die kosblik. Vir ’n vegetariese kosblik, laat net die hoender uit.

Genoeg vir 2 mense

Bereiding 5 minute

Gaarmaaktyd 15 minute

60 ml botter

500 ml gaar rys

100 ml bevrore ertjies

100 ml heelpitmielies

250 ml gerookte hoender, gevlok

25 ml pietersielie, fyn gekap

sout en vars gemaalde swartpeper

Verhit die botter en roerbraai die gaar rys ’n paar minute. Roer die ertjies daarby en braai nog ’n minuut.

Roer die mielies, hoender en pietersielie daarby en geur met sout en peper na smaak.

Laat dit goed afkoel en skep in die kosblik. Hou verkoel.

Onthou ’n plastiek- of houtvurkie.

WENK: Vervang die hoender met Weense worsies. Laat die vleis uit as dit ’n baie warm dag gaan wees.

Volg Huisgenoot op Twitter.