Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 20-25 minute

’n Mens gebruik gewoonlik cannelloni-buise vir hierdie gereg, maar dis effe aan die duur kant. Lasagnevelle werk net so goed.

30 ml (2 e) olyfolie

1 groot ui, fyn gekap

2 knoffelhuisies, fyn gekap

300 g spinasie, fyn gesnipper

300 g ricotta

100 g fetakaas, gekrummel

3 ml fyn neutmuskaat

sout en vars gemaalde swartpeper

12 lasagnevelle

125 ml (½ k) verouderde cheddarkaas, gerasper

Voorverhit die oond tot 180 °C en verhit die olyfolie in ’n groot pan.

Braai die ui en knoffel ’n paar minute of tot geurig.

Roer die spinasie by en braai sowat 1 minuut.

Verwyder van die hitte en laat afkoel.

Meng die afgekoelde spinasie, ricotta, fetakaas en neut, en geur met sout en peper na smaak.

Kook intussen die lasagnevelle 2 op ’n keer vir ’n minuut of tot net sag en hou eenkant.

Plaas die helfte van die gekookte velle in ’n oondbak en skep van die spinasievulsel op die een kant van elke vel.

Vou die velle toe oor die vulsel.

Herhaal met die res van die velle en vulsel.

Sprinkel cheddarkaas oor en bak sowat 15 minute of tot gaar.

Sit voor saam met tamatieslaai.

WENK: Wees versigtig dat die velle nie aan mekaar vassit nadat dit gekook is nie. Besprinkel die gekookte velle met ’n paar druppels olyfolie voor jy dit vul en toevou.