Ons lesers verstaan die kuns om vinnig en sonder te veel moeite smulkos voor te sit. Van jul staatmaker-resepte verskyn in hierdie uitgawe van Huisgenoot

RYSROERBRAAI MET TUNA

Volg Ray en Candice van Nova Constantia se maklike resep en omskep so die vorige aand se oorskietrys in ’n fynproe-aandete wat jy binne minute op tafel kan hê.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

45 ml (3 e) olie; 1 eier, geklits; 10 ml (2 t) water; 2 knoffelhuisies, gekneus; 3 stingeluie, fyn gekap; 2 blikke (175 g elk) tuna in water, gedreineer; 750 ml (3 k) gaar rys; 20 ml (4 t) vissous; 30 ml (2 e) sojasous; 250 ml (1 k) koljanderblare; ¼ pynappel, in klein blokkies gesny (opsioneel); 1 klein komkommer, in blokkies gesny; brandrissiesous om voor te sit

Verhit ’n klein bietjie van die olie in ’n groot braaipan of wok, meng die eier en water saam en giet in die pan, verhit tot gestol en skep uit. Rol die eieromelet op en sny in dun repe; hou eenkant vir garnering. Verhit die res van die olie en braai die knoffel, stingel-uie en tuna ’n paar minute. Roer die rys by en roerbraai tot deurwarm.

Meng die souse by die rysmengsel in en sprinkel die koljander en eierrepies oor. Sit voor met die gekapte pynappel, komkommer en brandrissiesous.