Voorbereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 20 minute

Murgpampoentjies en spinasie gee groenigheid by die romerigheid van die carbonara-sous.

30 ml olyfolie

40 ml botter

2 knoffelhuisies, gekneus

6 sprietuie, fyn gekap

400 g murgpampoentjies, opgesny

100 g babaspinasie (opsioneel)

250 g spekvleis, in blokkies gesny

15 olywe, ontpit en gehalveer

5 eiergele

150 ml dik room of natuurlike jogurt

sout en vars gemaalde swartpeper

knippie mosterdpoeier

origanum

Verhit die olyfolie en botter en braai die knoffel en sprietuie tot sag. Roer die murgpampoentjies daarby en roerbraai ’n paar minute.

Voeg die spinasieblare by en roerbraai tot verwelk. Skep uit en hou eenkant. Braai die spek tot bros en skep die murgpampoentjiemengsel terug in die pan; voeg die olywe by. Meng die eiergele, dik room, sout, peper en mosterdpoeier saam. Kook intussen die pasta tot net-net sag (al dente), dreineer en hou sowat 100 ml van die water oor.

Meng die pasta en water saam met die murgpampoentjiemengsel en verhit tot baie warm. Meng die eiermengsel daarby en verwyder van hitte.

Roer tot goed gemeng (die warm murgpampoentjiemengsel maak die eiermengsel gaar). Geur met vars kruie en sit dadelik voor.