Hier’s ‘n paar heerlike vars en nuwerwetse idees wat ons by bobaas-pizzamakers, Graham Thompson en Pieter Schoeman van Johannesburg gekry het. Die pizzabasisse is kraakdun en word nie weer gebak nadat die bolae opgesit is nie.

Basiese pizzadeeg

Die pizzabasisse word vooraf gebak en dan met interessante bolae versier. Die pizzas word nie weer gebak nadat die bolae opgesit is nie.

Maak 4-6 pizzabasisse

Bereiding: 20 minute

Rustyd: 1 uur

Baktyd: 10 minute

650 g (42/3k) bruismeel

420 ml natuurlike jogurt

1 pakkie (10 g) kitsgis

5 ml (1 t) papawersade

knippie sout

semolina om mee uit te rol

tamatiepuree of tamtiepesto

Stap 1

Plaas al die bestanddele behalwe die semolina in die bak van ’n elektriese menger. Gebruik die deeghaak en meng sowat 5 minute tot ’n sagte deeg gevorm het. Verhoog die spoed stadig met tussenposes van ’n minuut terwyl jy meng. Per hand Plaas die droë bestanddele in ’n hopie op ’n houtbord, maak ’n holte in die middel en gooi die jogurt in die holte. Meng die droë bestanddele ligweg met die jogurt tot goed gemeng. Knie tot die deeg glad en elasties is en nie meer aan jou hande vassit nie. Bedek die bak met kleefplastiek en laat rus op ’n warm plek vir sowat 20 minute.

Stap 2

Verdeel die deeg rofweg in 4-6 bolle, na gelang van hoe groot jy die basisse wil hê.

Stap 3

Rol die pizza uit: Plaas ’n bol deeg op ’n hout- of marmerblad (marmer werk beter, want die deeg sit nie so daaraan vas nie) en druk rofweg plat met jou hande. Dis hier waar die semolina goed te pas kom – besprinkel die deegblad daarmee, veral as die deeg nog effe aan die klam kant is – dan absorbeer die semolina al die oortollige vloeistof en maak dit baie makliker om met die deeg te werk. Terselfdertyd kry die deeg ’n mooi voorkoms.

Stap 4

Gebruik ’n rolstok en rol die deeg so dun moontlik uit. (Ek verkies ’n baie dun kors, maar jy kan dit ook dikker uitrol.)

Stap 5

Voorverhit die oond so warm as wat die oond kan – 270 °C. Skakel ook die roosterelementaan. Gebruik ’n dik marmerblad, minstens 2 cm dik (enigiets dunner sal kraak in die oond), en bak die pizzakors in die voorverhitte oond vir sowat 7 minute tot die bokant gedeeltelik goudbruin van kleur is. Draai die basis om en bak ’n verdere 2-3 minute tot goudbruin. Die pizzabasis moet nog effe sag in die middel maar meer bros rondom die kante wees. (Ek het ook al gewone bakplate gebruik).

Stap 6

Verwyder die pizzakors (asook die marmerblad) uit die oond, plaas dit op ’n houtplank en smeer met ‘n dun lagie tamatiepuree (verkieslik Italiaans). Rangskik enige van die bolae bo-op.

Caprese-pizza

Lekker vars klaarbereide pizzabasisse (sien resep)

mozzarella-kaas, in skyfies gesny

kersietamaties, gehalveer

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

vars basilieblare

basiliepesto

Pak die kaasskyfies mildelik op die pizzabasis. Druk vinnig in die oond indien jy gesmelte kaas verlang. Rangskik die kersietamaties en basilieblare bo-op en drup ’n bietjie basiliepesto oor.

Parmaham, avokado en roket

klaarbereide pizzabasisse (sien resep)

parmaham of swartwoudham

avokado, in skyfies gesny

vars roketblare

parmesaankaasskaafsels

olyfolie

Rangskik skyfies ham, avokado en roketblare op die klaargebakte pizza en sprinkel parmesaankaasskaafsels en olyfolie oor. Sit voor.

Geroosterde botterskorsie met salie en prosciutto

klaarbereide pizzabasisse

1 botterskorsie, geskil, ontpit en in stukke gesny

5 ongeskilde knoffelhuisies

15 ml (1 e) vars salieblare (eerder te min as te veel)

1-2 takkies vars roosmaryn

olyfolie

125 ml (½ k) witwyn

sout en peper na smaak

6-7 stukke prosciutto (of swartwoudham)

AFRONDING

vars salieblare

parmesaankaasskaafsels

olyfolie

Voorverhit die oond tot 200 °C. Pak die botterskorsie in ’n enkellaag in ’n oondpan, voeg die knoffel by en druk die kruie onder die botterskorsie in (sodat dit geur daaraan kan gee, maar nie verbrand nie). Gooi ’n bietjie olyfolie oor, asook die witwyn en geur na smaak met sout en peper. Oondbraai ’n uur lank tot die botterskorsie sag en goudbruin is. Draai halfpad deur die baktyd om met ’n eierspaan. Verwyder die kruietakkies en druk die knoffel uit hul skille. Voeg die ham 5 minute voor die einde by sodat dit net lekker warm kan word. Rangskik op gaar pizzakorse, stapel vars salieblare bo-op en rond af met skaafsels parmesaankaas. Besprinkel met ’n spatsel olyfolie indien verkies.

Wenk: Sorg dat jy ‘n paar gekoopte klaarbereide pizza-basisse in die vrieskas het as jy nie jou eie wil berei nie en bak hulle dan vooraf voordat jy die bolae opsit.