Lewer 4 porsies

André vertel: ‘‘Jare gelede toe ek ’n politieke verslaggewer was, was daar naby die parlementsgebou in Kaapstad ’n restaurant wat die wonderlikste pasta voorgesit het. Ek dink dit moet ’n resep soos hierdie – een van my eie konkoksies – wees wat hulle daar gebruik het.’’

Bly maar weg van dié een as jy lugtig is vir cholesterol en geregte wat te ryk is. Of as jy regtig moet, kan jy die room met jogurt vervang, maar dit smaak nie heeltemal so lekker nie, sê hy.

500 g pasta (spaghetti, fettucine, tagliatelle of waarvan jy ook al hou)

45 ml (3 e) olyfolie

4 stingeluie, gekap

3-4 sampioene, in dun skyfies gesny

150 g pancetta of spekvleis, gekap

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

2-3 eiers

350 ml vars room (of die helfte jogurt as die room vir jou te ryk is)

125 ml (½ k) (of meer as jy lus het) gerasperde parmesaankaas

Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak tot dit net gaar is.

Dreineer en hou eenkant.

Verhit die olie in ’n groot swaarboomkastrol en soteer die stingeluie en sampioene 1 minuut lank.

Voeg die spek by en roerbraai nog 3-5 minute of tot dit lekker bros is.

Verwyder die kastrol van die hitte.

Roer die pasta by die uie-en-spekmengsel in die kastrol en plaas terug op lae hitte om seker te maak alles is goed warm.

Geur die mengsel met sout en peper na smaak en verwyder van die hitte.

Klits die eiers, room en die helfte van die kaas saam tot dit lekker romerig is en giet oor die pasta.

Die hitte van die pasta behoort die sous warm genoeg te maak.

Indien nie, roer dit ongeveer 1 minuut oor lae hitte.

Sprinkel die res van die kaas oor die pasta wanneer jy opskep.

Sit voor en eet dadelik.