Genoeg vir 6 mense

“Op dae wanneer my eie kosmakery dreig om te verval in ’n ‘doggedly desperately’-styl (à la M.F.K. Fisher), haal ek die rys en ’n houtlepel uit en roer ek rustig aan ’n risotto wat almal aan tafel se oë sal laat blink.

Risotto, soos heelwat ander blink Italiaanse idees, kan ’n moeë ma se redding wees.

“Daar is ontelbare resepte vir risotto’s, maar ek hou steeds van hierdie klassieke Milanese weergawe. Risotto het immers in daardie streek ontstaan, en die resep is sonder fieterjasies,  eenvoudig en smaaklik.”

1¼ L (5 k) hoenderaftreksel

1 ml (¼ t) saffraandrade

2 groot beesbene met murg (vra jou slagter)

80 g botter

15 ml (1 e) fyn gekapte ui

400 g rondekorrelrys soos Arborio

200 ml droë witwyn

100 g parmesaankaas, gerasper

Verhit die hoenderaftreksel. Week die saffraandrade in 2 eetlepels van die warm aftreksel en hou eenkant.

Haal die murg uit die bene en laat smelt dit saam met die botter in ’n groot kastrol oor lae hitte.

Voeg die ui by en braai liggies.

Voeg die rys by en braai tot deurskynend terwyl jy heeltyd roer.

Voeg die wyn by.

As die rys die wyn heeltemal geabsorbeer het, voeg jy die warm hoenderaftreksel geleidelik by, ’n halwe koppie op ’n slag.

Wag elke keer tot die vloeistof geabsorbeer is voor jy nog byvoeg – en roer aanhoudend.

Ná sowat 10 minute voeg jy die 2 eetlepels hoenderaftreksel met die saffraan ook by.

Sit voor met parmesaan.