LEWER 2 GROOT PIZZAS

Bereidingstyd: 20 minute

Staantyd: 45 minute

Baktyd: 15 minute

BASIS

750 ml (3 k) meel

1 sakkie (10 g) gis

10 ml (2 t) suiker

knippie sout

250 ml (1 k) warm water

meel vir bestrooi

olie vir smeer

BOLAAG

3 tamaties, in skywe gesny

30 ml (2 e) olie

sout en vars gemaalde swartpeper

120 g mozzarellakaas, in stukke geskeur, of 250 ml (1 k) gerasper

’n hand vol vars basilie, geskeur

1    Basis Meng die meel, gis en suiker in ’n groot bak. Roer die sout in en giet die water in.

2    Meng die bestanddele met jou hand en bring die deeg bymekaar. Verplaas dit na ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is en knie 10 minute of tot die deeg glad en elasties is.

3    Vryf ’n skoon bak met die olie en plaas die deeg in die bak. Bedek met ’n afdroogdoek en laat staan 45 minute of tot die volume verdubbel het op ’n warm plek.

4    Voorverhit die oond tot 180 °C. Druk die deeg met jou vuis plat en keer dit uit op ’n oppervlak wat liggies met meel bestrooi is. Verdeel die deeg in twee en rol elke helfte uit om ’n groot, ronde pizza te vorm. Verplaas na ’n gesmeerde bakplaat.

5    Bolaag Rangskik die tamatieskywe op die pizzabasisse sodat hulle effens oorvleuel. Bedruip met die olie en geur goed met die sout en peper.

6    Bak 10 minute. Voeg die mozzarellakaas by en bak nog 5 minute of tot die kaas gesmelt het. Bestrooi met die basilie en sit voor.