250 g skulppasta

150 g repies spekvleis (opsioneel)

WITSOUS MET PESTO

25 ml botter

30 ml koekmeel

500 ml warm melk

sout en witpeper na smaak

40 ml basiliekruidpesto

KAASMENGSEL

250 ml gladde maaskaas

100 g simonzola of gorgonzola (bloukaas), gekrummel

250 ml gerasperde cheddarkaas

250 ml gerasperde mozzarellakaas

Voorverhit die oond tot 190 °C en smeer ’n diep oondvaste bak met botter.

Kook die pasta volgens die aanwysings op die pak.

Dreineer, spoel met warm water, dreineer weer en hou eenkant.

Braai die spek in ’n droë pan oor matige hitte tot bruin en bros.

Kap of breek dit in stukkies.

SOUS

Smelt die botter in ’n kastrol oor matige hitte.

Roer die meel in en kook 1 minuut terwyl gedurig geroer word.

Giet die warm melk geleidelik by en kook tot die witsous gaar en dik is.

Geur met sout en peper en roer die basiliekruidpesto deur.

KAASMENGSEL

Meng die maaskaas, gorgonzola, cheddar- en die helfte van die mozzarellakaas goed.

As die pastaskulpe groot is, kan dit met die kaasmengsel gevul word.

Skep van die witsous op die boom van die voorbereide bak.

Pak die helfte van die gevulde pastaskulpe op die sous en skep weer van die witsous oor.

Herhaal tot al die bestanddele opgebruik is.

Andersins kan die pasta, kaasmengsel en sous in lae in die bak geskep word.

Sprinkel die gebraaide spek en die res van die mozzarellakaas oor en bak 30 minute in die voorverhitte oond of tot goudbruin.

Genoeg vir 4 – 6 mense.

KITSWENK Gee ’n witsous kitsgeur deur ’n eetlepel of wat pesto daarin te meng. Moenie skrik vir die bloukaas nie, die smaak is baie subtiel maar heerlik. Vir ons hier in die toetskombuis was dit ’n gunsteling.