Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 30 min.

15 ml (1 e) olie

1 ui, gekap

2 knoffelhuisies, fyngedruk

300 g spinasie, stronke verwyder en fyn gekap

300 g boerewors, uit die derm gedruk

PASTA

250 g spaghetti of linguini

30 ml (2 e) tamatiepasta

250 ml (1 k) room

10 ml (2 t) mielieblom, opgelos in 15 ml (1 e) water

sout en vars gemaalde peper

Voorverhit die oond tot 200 °C. Bespuit ’n bakplaat met kossproei.

  1. Verhit die olie en braai die ui en knoffel tot geurig. Voeg die spinasie by en roerbraai tot verwelk. Skep uit en laat effens afkoel.
  2. Meng die spinasiemengsel deur die boereworsmaalvleis, rol frikkadelletjies en pak op die bereide bakplaat. Rooster 10-15 min. tot gaar.
  3. PASTA Kook die pasta tot al dente. Dreineer, maar behou 60 ml (¼ k) van die kookvloeistof.
  4. Verhit ’n pan en braai die tamatiepasta ’n paar sekondes. Voeg die room en mielieblommengsel by en meng goed. Laat prut terwyl af en toe geroer word, tot verdik. Geur met die sout en vars gemaalde peper.
  5. Meng die sous deur die pasta en sit voor saam met die frikkadelletjies en ekstra vars, gesnipperde spinasie.