Diemersdal se wynmaker, Thys Louw, en sy vrou, Ladine, maak die heerlikste pizzas in hul pizzaoond in die hart van hul eetkamer. Hulle maak propperse pizzadeeg, maar ons het sommer Elzette du Preez, wynmaker van De Grendel-landgoed, se idee gevolg en brooddeeg gekoop.

Genoeg vir 5 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

PIZZAKORSE

1 kg gekoopte brooddeeg (koop by supermark se bakafdeling)

10 ml (2 t) fyn gestampte vars roosmaryn of tiemie

30 ml (2 e) olyfolie

Verhit die oond tot 200 °C.

Besprinkel groot bakplate met meel.

Verdeel die deeg in 200 g bolletjies en rol baie dun uit op ’n meelbestrooide oppervlak.

Plaas op die bakplate en bak sowat 7-10 minute in die oond tot dit plek-plek sulke blase maak en goudbruin is.

Haal uit.

Meng die roosmaryn en olyfolie en smeer die pizzabasisse daarmee.

Elkeen kan nou sy eie bolaag opsit en dan bak julle dit net weer vinnig.

BOLAAG-IDEES

Gebruik as basis: Twee handevol groen, rooi en swart druiwe, gehalveer, en roketblare. Voeg

dan enige van die volgende by:

* Loperige heuning, parmesaankaasskaafsels en dennepitte.

* Gerookte forel en crème fraîche.

* Uiemarmelade, bloukaas en pekanneute.

* Rooi uie, camembertkaas en okkerneute.

* Fyngedrukte knoffel, ekstra olyfolie en parmesaankaas.

WENK: Die dennepitte kan deur pekanneute vervang word.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot, 3 Maart 2011.