TAMATIESOUS

45 ml olie

2 uie, fyngekap

1 kg tamaties (vars of geblik), gekap

3 knoffelhuisies, fyngekap

30 ml tamatiepuree

1 takkie pietersielie

2 takkies tiemie

1 lourierblaar

sout en vars gemaalde swartpeper na smaak

5 ml suiker

VULSEL

300 g hoenderborsies (sonder vel of been), in stukke gesny

60 g repies spekvleis, in stukke gesny

1 ui, in kwarte gesny

15 ml olyfolie

1 pakkie sondroë tamaties, gedreineer en gehalveer

100 ml gerasperde cheddarkaas

2 eiers

125 ml dik room

sout en vars gemaalde swartpeper

knippie neutmuskaat

PASTA

1 pak cannellonibuise

80 ml gerasperde parmesaankaas

SOUS 

Verhit die olie in ’n vlak kastrol en soteer die uie tot ligbruin.

Roer die tamaties, knoffel, tamatiepuree, kruie, sout, peper en suiker by.

Kook 12 – 15 minute stadig tot redelik dik.

Roer af en toe.

Syg die tamatie- sous deur ’n sif – druk hard met die agterkant van ’n lepel om soveel moontlik sous te kry.

Geur na smaak en hou eenkant.

VULSEL 

Plaas die hoender, spekvleis en ui in ’n voedselverwerker en verwerk tot die mengsel taamlik fyn is, maar nie verpulp nie. (Dit kan ook met ’n koksmes fyngekap word.)

Verhit die olie in ’n groot pan en soteer die vleismengsel oor lae hitte tot dit gaar is en begin bruin braai.

Roer voortdurend.

Verwyder van die hitte en roer die sondroë tamaties en cheddarkaas in.

Klits die eiers en room liggies en roer dit by die gaar vleismengsel in.

Geur met sout, peper en neutmuskaat.

Voorverhit die oond tot 200 °C en smeer ’n vlak oondvaste bak.

PASTA 

Skep die vulsel in die cannellonibuise en pak dit in die voorbereide bak.

Giet die tamatiesous oor die cannelloni om dit te bedek.

Sprinkel die parmesaankaas eweredig oor.

Bak die gereg 20 – 25 minute in die voorverhitte oond of tot goudbruin.

Genoeg vir 6 – 8 mense.