Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 5 min.

Gaarmaak: 13 min.

30 ml (2 e) olyfolie

250 g sampioene, in skywe gesny

sout en peper

2 knoffelhuisies, fyngedruk

2 hande vol babaspinasie, afgespoel

8 eiers

60 ml (¼ k) parmesaankaas, gerasper (opsioneel)

1. Verhit die olie oor matig-hoë hitte in ’n kleefbestande pan en voeg die sampioene by. Braai terwyl jy roer tot dit begin versag. Voeg die sout, peper en knoffel by en roer saam tot die knoffel geurig is.

2. Voeg ’n hand vol spinasie op ’n slag by en roer tot verlep. Stel die hitte hoër en laat enige oortollige vloeistof uit die pan verdamp. Verwyder van die hitte, proe en pas geursel aan.

3. Klits die eiers in ’n groot bak, geur met sout en peper en voeg die kaas by, indien verlang.

4. Giet die eiermengsel in en skraap alles daarvan met ’n rubberspatel in. Swaai die pan om die eiers en vulsel egalig oor die oppervlak te versprei.

5. Skud die pan liggies en hou dit met die een hand effens skuins terwyl jy die frittata met ’n spatel van die kante af lig om die eier onderin te laat loop tydens die eerste paar minute van bak. Wanneer ’n paar lae eier gebak het, stel die hitte op laag, bedek en bak 3 min. terwyl jy die pan af en toe liggies skud. Haal af en toe die deksel af en maak die onderkant van die frittata met die spatel los tot gaar.

Deur Hope Malau

Foto’s: Jacques Stander