Jy sal nie aangeklam raak van die whisky nie, want die alkohol kook uit terwyl dit bak, maar die geur versprei en maak die broodpoeding ’n wenner.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 45 min.

60 ml (¼ k) botter, gesmelt

125 ml (½ k) bruinsuiker

30 ml (2 e) fyn kaneel

’n kippie neutmuskaat

4 eiers

310 ml (1¼ k) room

60 ml (¼ k) whisky

5 ml (1 t) vanieljegeursel

8 oliebolle, grof gekap (gekoop of oorskiet)

vanieljeroomys, vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n broodpan liggies met botter.

  1. Meng die oorblywende botter, bruinsuiker, kaneel en neutmuskaat in ’n groot bak. Voeg die eiers by en klits tot gemeng. Klits die room, whisky en vanielje in.
  2. Giet die eiermengsel oor die oliebolle. Druk sagkens met ’n lepel af om te sorg dat al die stukke onderdompel is. Laat die poeding ’n uur by kamertemperatuur staan.
  3. Bedek die poeding met ’n stuk foelie en bak 30 min. Verwyder die foelie en bak die poeding nog 15 min. of tot die vla geset maar sag is en die bokant van die oliebolle effens verbruin het. Sit voor met ’n skep roomys.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan