Genoeg vir 6-8 mense

Bereiding: sowat 25 minute

Staantyd: sowat 1 uur

Baktyd: sowat 1 uur

sowat 500 g brooddeeg

1 blik (410 g) appels

125 ml (½ k) gouestroop

60 g botter

2 ml (½ t) fyn gemmer

1 kaneelstokkie

5 ml (1 t) vanieljegeursel

50 g donkersjokolade, gesmelt

100 g gemengde neute, gekap

vla en/of roomys

Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n groot bakplaat met olie of bespuit dit met kossproei.

  1. Laat die deeg sowat 20-30 minute op ’n warm plek rys.
  2. Maak die appels met hul sous, die gouestroop, die helfte van die botter, die gemmer, kaneelstokkie en vanieljegeursel saam in ’n kastrol warm.
  3. Bring die mengsel tot kookpunt, verlaag die hitte en laat prut 10-15 minute of tot stroperig. Haal die kaneelstokkie uit.
  4. Knie die deeg af op ’n meelbestrooide werkoppervlak en rol dit ovaalvormig uit.
  5. Skep die stroop met die appels op die uitgerolde deeg en rol dit in die lengte op soos ’n rolkoek.
  6. Sit die rol versigtig op die voorbereide bakplaat en laat 20-30 minute rys.
  7. Smelt die res van die botter en smeer dit oor die rol. Bak die rol 30-40 minute of tot goudbruin en gaar.
  8. Laat die rol op ’n draadrak afkoel. Smelt die sjokolade en versier die rol met die sjokolade en neute.
  9. Sny die rol in skywe en sit voor saam met vla of roomys of albei.