Genoeg vir 6 mense

Bereidingstyd: 10 minute

Gaarmaaktyd: 1 uur

FRUMMEL

135 g botter, gekap

375 ml (1½ k) meel

250 ml (1 k) strooisuiker

3 groenskilappels, geskil en in kwarte gesny

300 g bevrore gemengde bessies

1 suurlemoen

VLA

500 ml (2 k) melk

125 ml (½ k) dikroom

6 eiergele

60 ml (¼ k) strooisuiker

15 ml (1 e) fyn gemmer

5 ml (1 t) kaneel

15 ml (1 e) mieliemeelblom

1    Frummel Voorverhit die oond tot 180 °C en smeer ’n oondvaste bak.

2    Plaas die botter, meel en suiker in ’n bak en vryf met jou vingerpunte tot die mengsel soos broodkrummels lyk.

3    Plaas die appels en bessies in ’n bak, druk die suurlemoen oor die vrugte uit en keer dit in die voorbereide oondvaste bak uit. Bedek met die meelmengsel en bak 40 minute of tot die frummel goudkleurig bo-op is.

4    Vla Verhit die melk en room in ’n kastrol oor matige hitte.

5    Klits die eiergele, suiker, gemmer, kaneel en mieliemeelblom in ’n groot bak. Wanneer die melkmengsel warm is, voeg ’n lepel vol daarvan op ’n slag by die eiergeelmengsel terwyl jy aanhoudend roer. Giet die vla in ’n kastrol, klits en plaas 10 minute terug op die hitte.

Sit die vla saam met die vrugtefrummel voor.

- Hope Malau