GENOEG VIR 4 MENSE

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 20-25 minute

200 g donkersjokolade van ’n goeie gehalte (80% kakao)

125 g botter (nie margarien)

6 eiers, geskei

180 ml (¾ k) strooisuiker

kakao vir oorsif

Voorverhit die oond tot 200 °C. Smeer ’n klein oondvaste bak.

  1. Smelt die sjokolade en botter in ’n bak oor kookwater of 1-2 minute in die mikrogolfoond. Roer af en toe.
  2. Klits die eiergele en suiker saam tot lig en dik. Klits die gesmelte sjokolade by.
  3. Klits die eierwitte styf en vou by die sjokolademengsel in.
  4. Giet in die voorbereide bak en bak 20-25 minute tot stewig bo, maar nog effens loperig in die middel.
  5. Sif die kakao oor en sit dadelik voor.

WENK

Vou die eierwitte versigtig met ’n metaallepel in tot net gemeng. As jy dit te veel meng, sal die lug wat by die eierwitte ingeklits is, ontsnap en die poeding sal nie lig genoeg wees nie.