LEWER 32 STOKKIELEKKERS

Bereiding: 45 minute

Gaarmaaktyd: 20-25 minute

Koek

120 g sagte botter/margarien

200 ml suiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2 ekstragroot eiers

500 ml (2 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

1 ml (¼ t) sout

125 ml (½ k) melk

Bindmengsel

250 g versiersuiker, gesif

75 g geroomde maaskaas

15 ml (1 e) sagte botter

2 ml (½ t) vanieljegeursel

Afronding

200 g donkersjokolade

verskeie koeksprinkels

Voorverhit die oond tot 190 °C. Smeer ’n 20 x 20 cm-koekpan en voer die boom met bakpapier uit.

  1. Koek Klop die botter en suiker tot lig en romerig. Voeg die vanieljegeursel by en klits die eiers een-een by die bottermengsel in. Sif die droë bestanddele en vou by die bottermengsel in om die beurt met die melk. Giet die beslag in die koekpan en bak 20-25 minute of tot ’n toetspen skoon uitkom. Keer die koek op ’n draadrak uit en laat heeltemal afkoel. Breek die afgekoelde koek in stukke en krummel fyn in ’n mengbak.
  2. Bindmengsel Klits al die bestanddele goed. Meng die krummels en net genoeg van die bindmengsel tot goed aangeklam.
  3. Skep lepels vol van die koekmengsel uit en rol in okkerneutgrootte-bolletjies.
  4. Druk stokkies in en verkoel tot stewig, sowat 10 minute.
  5. Afronding Smelt die sjokolade en doop die bolletjies een-een daarin.
  6. Sprinkel sprinkels oor en laat 5 minute staan tot gestol.