Lewer 1 koek (12 snye)

Bereiding: 30-40 minute

Gaarmaaktyd: 40 minute

KOEK

155 g donkersjokolade, in stukkies gebreek

250 ml (1 k) bruinsuiker

125 ml (½ k) room

2 eiergele

200 g botter, versag

250 ml (1 k) witsuiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

2 heel eiers, liggies geklits

250 ml (1 k) koekmeel

250 ml (1 k) bruismeel

180 ml (¾ k) melk

3 eierwitte

GANACHE

300 g donkersjokolade

300 ml room

AFRONDING

12 sjokoladetruffels

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer 2 ronde 23 cm-koekpanne en voer die bome met bakpapier uit. Smeer die papier ook.

  1. KOEK Plaas die sjokolade, bruinsuiker, room en eiergele in ’n glasbak oor ’n kastrol kookwater en verhit. Roer heeltyd tot die mengsel glad is. Verwyder die kastrol van die hitte en laat effens afkoel. Klits die botter, witsuiker en vanielje saam tot lig en donsig. Voeg die eiers geleidelik by terwyl gedurig geklits word.
  2. Sif die meel en bruismeel oor die bottermengsel.
  3. Voeg die sjokolademengsel en melk by en meng goed.
  4. Klits die eierwitte tot stywe punte begin vorm en vou dit by die sjokolademengsel in. Giet die beslag in die voorbereide koekpanne en bak 40 minute of tot gaar. Laat die koeke 5 minute in die panne afkoel en keer dit dan op afkoelrakke uit.
  5. GANACHE Verhit die sjokolade en room in ’n glasbak oor ’n kastrol met kookwater tot die sjokolade heeltemal gesmelt het. Plaas in die yskas.
  6. Klits elke 5-10 minute met ’n handklitser tot die mengsel ’n smeerbare dikte het.
  7. Sny elke koeklaag horisontaal deur en plak die lae aanmekaar met die ganache. Smeer die res van die ganache bo-op en aan die kante.
  8. AFRONDING Plaas die truffels op gelyke afstande om die buiterand van die koek as versiering.