Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 20 minute

STROOP

250 ml (1 k) kookwater

125 ml (½ k) suiker

15 ml (1 e) suurlemoensap

15 ml (1 e) botter

POEDING

250 ml (1 k) koekmeel

10 ml (2 t) bakpoeier

30 ml (2 e) kakao

1 ml (¼ t) sout

15 ml (1 e) botter

2 eiers

15 ml (1 e) suiker

kakao om in te rol

60 ml (¼ k) appelkooskonfyt

vla vir voorsit (indien verkies)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n middelslagoondvaste bak.

  1. STROOP Plaas al die bestanddele in ’n klein kastrolletjie. Verhit en roer tot die suiker gesmelt het. Laat 3 minute stadig kook.
  2. POEDING Sif die meel, bakpoeier, kakao en sout saam. Vryf die botter in met jou vingerpunte tot goed gemeng.
  3. Klits die eiers tot skuimerig, voeg die suiker by en klits tot lig en romerig. Vou die meelmengsel in en meng tot ’n stywe deeg.
  4. Bestrooi ’n oppervlak met kakao en rol die deeg in ’n reghoek daarop uit. Smeer met appelkooskonfyt en rol op.
  5. Sny in skywe en pak in die voorbereide bak. Giet die stroop oor en bak sowat 20 minute of tot die poeding gaar is en ’n toetspen skoon uit die middel van die deeg kom.