Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min.

Bak: 45 min.

DEEG

250 ml (1 k) meel, plus ekstra vir bestrooi

30 ml (2 e) kakaopoeier

60 ml (¼ k) versiersuiker, gesif

’n knippie sout

125 g botter, in blokkies gesny

1 eier, geklits

VULSEL

200 g donker sjokolade, in stukke gebreek

250 ml (1 k) room

80 ml (? k) melk

60 ml (¼ k) strooisuiker

30 ml (2 e) appelkooskonfyt

1 eier

1 eiergeel

2,5 ml (½ t) vanieljegeursel

6 perskes, ontpit en in skywe gesny

Voorverhit ’n bakplaat in die oond teen 180 °C. Smeer ’n losboomtertpan van 13 x 30 cm.

  1. Sif die droë bestanddele saam in ’n groot bak met ’n knippie sout.
  2. Vryf die botter in tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Voeg die eier by en knie ’n kort rukkie. Vorm in ’n reghoek, draai in kleefplastiek toe en verkoel ’n halfuur.
  3. Rol die deeg uit en voer die pan heeltemal uit. Sny enige oortollige deeg af en prik die bodem met ’n vurk. Voer die tertdop met bakpapier uit, vul met rou bone of rys en bak 10 minute blind.
  4. Haal die bakpapier en bone of rys uit en bak nog 5 minute. Haal uit die oond en sit eenkant om effens af te koel. Verminder die oondtemperatuur tot 150 °C.
  5. Vulsel Plaas die donker sjokolade in ’n groot bak. Verhit die room, melk en strooisuiker liggies in ’n potjie terwyl jy roer tot amper kookpunt. Verwyder van die hitte en giet oor die sjokolade. Roer tot gesmelt en sit eenkant tot effens afgekoel.
  6. Roer die konfyt in en klits die eier, eiergeel en vanieljegeursel in. Giet die mengsel versigtig in die tertdop.
  7. Bak 30 minute tot net geset. Haal uit die oond en laat 20 minute in die pan afkoel voor jy dit versigtig uitkeer. Garneer met vars gesnyde perskes.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander