LEWER 1 TERT VAN 24 CM

Bereiding: 45 minute

Baktyd: altesaam 45 minute

TERT

125 g botter

100 g donkersjokolade, gekap

2 eiers, liggies geklits

100 g strooisuiker

75 g bruismeel

50 g haselneute, gemaal

30 ml (2 e) kakaopoeier

MERINGUE-BOLAAG

3 eierwitte

150 g strooisuiker

100 g donkersjokolade, gesmelt

AFRONDING

125 ml (½ k) dik room

100 g sjokolade-haselneutsmeer (soos Nutella)

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer ’n oondbak van 24 cm.

  1. TERT Smelt die botter en sjokolade in ’n glasbak oor ’n pot kokende water.
  2. Verwyder van die hitte. Voeg die eiers by en klits goed.
  3. Voeg die suiker, meel, gemaalde haselneute en kakaopoeier by en vou in. As die mengsel baie dik is, voeg 15-20 ml melk by.
  4. Skep die beslag in die bak en bak 35 minute tot ’n toetspen skoon uit die middel van die tert kom.
  5. MERINGUE-BOLAAG Verhit die oond tot 200 °C.
  6. Klits die eierwitte tot sagtepuntstadium en voeg die suiker stadig by terwyl jy aanhou klits. Klits tot al die suiker opgelos het en die meringue blink.
  7. Deel die meringue in twee en meng die gesmelte sjokolade by die een helfte in. Vorm ’n marmer-bolaag deur die twee helftes liggies met lepels te meng en oor die tert te skep. Bak sowat 8-10 minute tot die tert ferm is.
  8. AFRONDING Smelt die room en sjokoladesmeer saam in ’n pan oor lae hitte. Laat afkoel en bedrup die tert daarmee. Rond af met versiersuiker.

Susan Jooste van Brackenfell het hierdie resep met ons gedeel.