Dié nagereg kry jy in minder as ’n halfuur op die tafel!

Gebruik enige soort rys wat jy in jou koskas kan vind vir hierdie heerlike en maklike nagereg. Ons het basmatirys gebruik.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 5 minute

Gaarmaaktyd: 25-30 minute

250 ml (1 k) rou rys

400 ml klappermelk of room

300 ml volroommelk

125 ml (½ k) suiker

2 stukke steranys

1 kaneelstok

5 kardemomsade se pitjies

kaneelsuiker vir garnering

Spoel die rys af en plaas die rys, klappermelk of room, melk en suiker saam in ’n middelslag-kastrol.

Bring die mengsel tot kookpunt en voeg die steranys, kaneelstok en kardemompitjies by.

Verlaag die hitte en laat prut oor baie lae hitte tot die rys gaar is.

Roer af en toe sodat die rys nie aanbrand nie.

Verdeel die ryspoeding tussen bakkies en garneer met kaneelsuiker.

Vir meer vinnige nageregte koop die Huisgenoot van 1 April.