LEWER 18 POEDINKIES

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 15-17 minute

Pannekoek

250 ml (1 k) melk

6 eiers

250 ml (1 k) koekmeel

2 ml (½ t) sout

5 ml (1 t) vanieljegeursel

60 ml (¼ k) botter, gesmelt

Vulsel

150 g donkersjokolade

80 ml (¹/³ k) room

versiersuiker vir bo-oor sif

  1. Voorverhit die oond tot 200 °C. Bespuit die holtes van middelslag-muffinpanne goed met kossproei.
  2. Pannekoek Plaas die melk, eiers, meel, sout en vanieljegeursel in ’n voedselverwerker en meng goed tot ’n gladde mengsel sonder klonte vorm.
  3. Giet die botter stadig deur die tuit by terwyl die voedselverwerker aangeskakel is.
  4. Vul die holtes halfpad met die pannekoekmengsel. Bak 12-15 minute tot pofferig en goudbruin bo-op. (Dit vorm vanself ’n holte in die middel.)
  5. Vulsel Plaas die sjokolade en room in ’n glasbak en mikrogolf 1-2 minute tot gesmelt. Roer gereeld.
  6. Giet in die pannekoekholtes. Sif versiersuiker oor en sit voor as nagereg.