Hierdie klewerige, koue nagereg bied die beste van twee wêrelde en is ’n lekker manier om jou geliefdes te bederf.

GENOEG VIR 6

Bereiding: 20 min.

Gaarmaak: 50 min.

Verkoel: 3 uur

Granita

80 ml (? k) strooisuiker

60 ml (¼ k) water

300 g waatlemoen

sap van ’n halwe suurlemoen

Meringue

2 eierwitte

2,5 ml (½ t) witwynasyn

125 ml (½ k) strooisuiker

10 ml (2 t) mieliemeelblom

2,5 ml (½ t) vanieljegeursel

Voorverhit die oond tot 140 °C en voer ’n bakplaat met bakpapier uit.

  1. *Granita: Gooi die suiker en water in ’n kastrol en meng tot opgelos. Bring tot kookpunt en verwyder dan die stroop van die hitte.
  2. Blits die waatlemoen en suurlemoensap in ’n verwerker. Meng met die stroop en vries ’n uur. Haal uit die vrieskas en roer met ’n vurk. Roer dan een keer elke 3 uur.
  3. Meringue: Klits die eierwitte tot sagte punte vorm. Voeg die asyn by en klits tot stywe punte vorm. Voeg die strooisuiker geleidelik by en hou aan klits tot die mengsel styf en glansend is. Rond af deur die mieliemeelblom en vanieljegeursel in te vou.
  4. Laat val eetlepels vol van die meringue-mengsel op die voorbereide bakplaat. Bak 20 minute. Verlaag dan die hitte tot 110 °C en bak nog 30 minute. Die meringues moet nog sag en klewerig binne wees.
  5. Haal uit die oond en laat heeltemal afkoel. Sit die meringues voor met groot skeppe waatlemoen-granita.

Deur Hope Malau

Foto: David Briers

*Granita: 'n semi-bevrore nagereg