500 ml (2 k) oorskietkoekstruif

125 ml (½ k) klaargaar-vla

vars vrugte soos skywe piesang, papaja, pynappel en appelliefies

250 ml (1 k) crème fraîche of geklopte room, gemeng met 45 ml (3 e) gewone jogurt

130 g aarbeie, fyn gemaak met 5 ml (1 t) versiersuiker bygeroer

’n paar mentblaartjies, opgerol en in dun repies gesny

Skep ’n groot lepel koekstruif in klein tertbakkies of selfs klein koffiekoppies.

Skep ’n skeppie vla oor en rangskik die vrugte ruimskoots bo-op.

Skep ’n goeie skep van die crème fraîche oor. Rond af met ’n skeppie van die aarbeisous.

Sprinkel die repies mentblare oor. Verkoel tot jy dit voorsit.

Pak dit op ’n mooi opdienbord en sit voor met klein lepeltjies.

Wenke

Gee die aarbeie geur deur ’n bietjie swartpeper oor te sprinkel.

Pleks van ment kan jy gekapte neute of geroosterde klapper oorsprinkel.