Christine Prinsloo van Uis in Namibië was nog altyd versot op kaaskoek. Terwyl sy in die Paarl studeer het, het sy ’n verskeidenheid kaaskoeke geproe en haar eie resep ontwikkel. Die resultaat is iets besonders.

LEWER 1 GROOT

KAASKOEK OF 12-15

MINIKAASKOEKE

Bereiding: 20 min.

Verkoel: 3-4 uur of oornag

200 g gewone

volgraankoekies

100 g botter, gesmelt

2 blikke (385 g) kondensmelk

250 ml (1 k) suurlemoensap

2 houers (250 g) roomkaas

60 ml (¼ k) water

30 ml (2 e) gelatien

3 blikkies (115 g) grenadellamoes

1 pakkie (80 g) suurlemoenjellie

250 ml (1 k) kookwater

Smeer ’n losboomkoekpan van 25 cm of 12 klein losboomtertpannetjies.

  1. Meng die koekies en botter en druk dit in die bereide panne. Plaas dit in die koelkas terwyl jy die vulsel maak.
  2. Klits die kondensmelk, suurlemoensap en roomkaas saam in ’n groot bak tot glad.
  3. Gooi die water oor die gelatien en laat staan om te spons. Verhit die gelatien ’n paar sekondes tot dit smelt en klits by die roomkaasmengsel.
  4. Voeg twee blikkies grenadellamoes by die mengsel en gooi oor die koekiebasis. Plaas vir sowat twee uur in die koelkas.
  5. Roer die suurlemoenjellie en kookwater saam tot die jellie opgelos is en laat ’n paar minute eenkant afkoel.
  6. Gooi die oorblywende blikkie grenadellamoes by, gooi oor die gestolde kaaskoek en verkoel nog ’n uur in die koelkas.
  7. Sit voor saam met grenadellasous of room.