Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

EIERVLA

200 ml melk (volroom- of 2%-melk)

1 vanieljepeul, oopgesny en sade verwyder

3 eiers

1 eiergeel

75 ml suiker

ROOM

250 g mascarpone

250 g vars bessies (enige seisoensbessies)

500 ml (2 k) meringue, gekrummel

vars kruisementblare vir garnering

EIERVLA

Bring die melk, vanieljepeul en sade tot kookpunt in ’n kastrol. Klits die eiers, eiergeel en suiker tot lig en romerig.

Giet van die verhitte melk ’n bietjie op ’n slag by die eier-en-suikermengsel en klits goed.

Giet die eier-en-melkmengsel terug in die kastrol en plaas terug op die stoofplaat. Verlaag die hitte en roer tot die vla verdik.

Verwyder die vanieljepeul en laat afkoel. Wees versigtig om nie die eiervla te kook nie; dit kan skif.

ROOM

Roer die mascarpone by die afgekoelde vla in. Verdeel die bessies tussen 4 bakkies, sprinkel die meringue oor en roer die vlamengsel by.

Garneer met vars kruisementblare.

WENK As jy bang is die vla kan skif, gebruik ’n dubbelkoker of werk in ’n glasbak oor ’n kastrol gevul met kookwater – maak seker die water raak nie aan die bak nie.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 25 Februarie 2010