Tarte tatin kan ’n gedoente wees omdat jy moet wag dat die stroop karamelliseer en versigtig moet wees dat dit nie brand nie. Daarby is daar altyd die gevaar dat die vrugte aan die pan vassit. Ons weergawe is so maklik soos koek eet.

Maak 4 tertjies

Bereiding: 5 minute

Gaarmaaktyd: 10 minute

4 croissants, onderste korsie afgesny

2 pere, in die dwarste in skyfies gesny

125 ml (½ k) room (sowat 30 ml (2 e) room per tertjie)

bruinsuiker vir oorsprinkel

ekstra room vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Hol elke croissant effens uit, maar los ’n randjie rondom om n dop te vorm. Plaas die croissants met die uitgeholde deel na bo op ’n bakplaat
  2. Plaas die peerskyfies (’n halwe peer s’n per croissant) in ’n waaiervorm binne-in elke uitgeholde deel.
  3. Giet ’n bietjie room oor elke croissant-dop en sprinkel genoeg bruinsuiker oor.
  4. Bak omtrent 10 minute tot die suiker gekaramelliseer het. Bedek die rolletjie se kante met tinfoelie as dit te donker begin bak.
  5. Sit voor met die ekstra geklopte room.