Maak ’n fles appelspesery en gebruik dit wanneer jy ’n soet nagereg maak. Die kluitjies is die heel lekkerste op koeler dae.

Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min.

Gaarmaak: 15 min.

Appelspesery

60 ml (¼ k) kaneel

7 ml (1½ t) neutmuskaat

2,5 ml (½ t) fyn wonderpeper

5 ml (1 t) fyn gemmer

5 ml (1 t) fyn kardemom

Kluitjies

375 ml (1½ k) wit suiker

1 L (4 k) water

2 kaneelstokke

2 eiers

40 g botter, gesmelt

375 ml (1½ k) meel, plus ekstra vir bestuif

5 ml (1 t) bakpoeier

’n knippie sout

30 ml (2 e) melk

appelspesery en suiker, vir voorsit

  1. Appelspesery: Meng al die speserye in ’n fles en skud tot goed gemeng.
  2. Kluitjies: Laat prut die suiker, water en kaneelstokke in ’n pot tot stroperig. Klits die eiers goed in ’n groot bak en voeg die gesmelte botter by.
  3. Sif die meel, bakpoeier, sout en 10 ml (2 t) van die appelspesery. Voeg die eiermengsel by die meelmengsel. Voeg die melk by en meng goed.
  4. Wanneer die stroop warm is, maar nie kokend nie, skep teelepels vol van die beslag in die vloeistof. Sorg dat die pot nie oorvol is nie, want die beslag swel heelwat uit.
  5. Bedek die pot met ’n deksel en laat stoom die kluitjies 5 min. Die kluitjies is gaar wanneer dit ferm voel as jy daaraan druk.
  6. Skep dit versigtig met ’n gaatjieslepel uit en bestrooi met die appelspesery en suiker. Gaan voort met die oorblywende beslag. Wanneer al die kluitjies gaar is, giet die stroop oor die kluitjies. Sit dadelik voor.

Deur Hope Malau

Foto: Misha Jordaan