LEWER 1 TERT VAN 23 CM OF 6 MINI-BROODJIES

Bereiding: 50 minute

Baktyd: 45 minute

Staantyd: 40 minute

KORS

140 g koekmeel

60 ml (¼ k) mielieblom

knippie sout

125 g koue botter

sowat 15 ml (1 e) yswater

VULSEL

250 ml (1 k) room

3 groot eiergele

125 ml (½ k) suiker

5 ml (1 t) vanieljegeursel

BOLAAG

3 Granny Smith-appels, geskil en in skyfies gesny

80 ml (¹/³ k) appelkooskonfyt, warm gemaak

  • Voorverhit die oond tot 190 °C.
  • Smeer ’n losboomtertpan van 23 cm of 6 minibroodpannetjies.

  1. KORS Sif die meel, mielieblom en sout saam en vryf die botter in tot die mengsel soos growwe broodkrummels lyk.
  2. Voeg ’n bietjie water op ’n slag by terwyl jy die deeg met ’n paletmes sny tot dit bymekaarkom. Voeg nog water by indien nodig. Bedek met kleefplastiek en laat 30 minute in die yskas rus.
  3. Rol die deeg op ’n meelbestrooide oppervlak tot sowat 3 mm dik uit en voer die pan(ne) daarmee uit.
  4. Prik die basis(se) met ’n vurk en laat 10 minute in die yskas rus.
  5. Bak die kors 10 minute blind. Verwyder uit die oond en verlaag die temperatuur tot 180 °C.
  6. VULSEL Verhit die room in ’n kastrol tot lou.
  7. Klits die eiergele en suiker saam tot lig en donsig en voeg die vanieljegeursel by. Giet die warm room stadig by die eiermengsel terwyl jy dit meng. Giet terug in die kastrol.
  8. Verhit die mengsel oor medium hitte tot dit verdik. Roer aanhoudend. Skep die mengsel in die tertdop.
  9. BOLAAG Rangskik die appelskyfies bo-op en borsel met die appelkooskonfyt.
  10. Bak 30-35 minute tot dit goud verkleur en die appels sag is.