Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 25 min.

SPONSKOEK

6 eiers, geklits

500 ml (2 k) strooisuiker

625 ml (2½ k) bruismeel

5 ml (1 t) bakpoeier

45 ml (3 e) melk

200 g botter, versag

VULSEL EN BOLAAG

200 ml room

60 ml (¼ k) strooisuiker

150 g aarbeikonfyt

200 g vars aarbeie

versiersuiker vir bestuif

Voorverhit die oond tot 180 °C. Smeer twee 2 x 20 cm ronde koekpanne en voer met bakpapier uit.

1. Sponskoek Plaas al die bestanddele in ’n groot bak en klits met ’n elektriese klitser tot glad.

2. Verdeel die beslag gelykop tussen die panne en maak met die agterkant van ’n lepel glad. Bak 25 min. of tot goudkleurig. Haal uit die oond en laat 5 min. in die pan afkoel. Keer die koek op ’n draadrak uit en laat heeltemal afkoel.

3. Vulsel en bolaag Klits die room en suiker tot sagte punte vorm. Plaas die koek in die middel van ’n opdienbord of koekstaander. Skep die room oor en smeer dan die konfyt bo-oor.

4. Sit die tweede sponskoek bo-op. Versier met die aarbeie en bestuif met die versiersuiker.

Deur Hope Malau

Foto’s: David Briers