Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 3-5 min

Gaarmaaktyd: 15-20 min

Dié geurige kerrie is altyd ’n gunsteling onder al die proeërs in die toetskombuis; ’n mens kan dit met ’n geruste hart aan gaste voorsit.

HOENDER

4-6 ontvelde hoenderborsfilette, in repies

gesny

sojasous

mielieblom gemeng met 1-2 ml borrie

olie en sesamolie

1 houertjie (125 g) sjitake-sampioene, gehalveer

1 houertjie (125 g) baba-mielietjies

helfte van 1 pakkie (250 g) jong groenbone,

geblansjeer

1 pakkie (125 g) broccoli-blommetjies, geblansjeer

KERRIEMENGSEL

125 ml klappermelk

1 pakkie (50 g / 45 ml) tandoori-en-tikkapasta

paar druppels vissous

250 ml natuurlike jogurt

VIR OPDIENING

jasmynrys en sesamolie of sojasous

grondbone om bo-oor te sprinkel

vars koljanderblare vir garnering

HOENDER

Besprinkel die hoenderborsfilette met sojasous en laat ’n paar minute staan. Rol dan in die mielieblommengsel. Braai bietjies-bietjies in verhitte olie tot ligweg bruin en net gaar. Skep uit. Vee die panskraapsels uit die pan. Giet nog olie in die pan en roerbraai die groentes ligweg. KERRIE Meng al die bestanddele vir die kerriemengsel en giet by die

groente in die pan, voeg die hoender by en maak net weer goed warm. Sit voor met jasmynrys (waarby ’n bietjie sesamolie of sojasous gemeng is) en sprinkel grondbone net voor opdiening oor. Rond af met koljanderblare