Maak sowat 7 liter fynvleis

Bereiding: 10 min

Gaarmaaktyd: 1¼ uur

Groot hoenderstukke vries nie te lekker nie – dis alte veel asof dit droog wil wees. Kook dus eerder ’n paar heel hoenders op en maak fynvleis waarmee jy dan ’n verskeidenheid geregte kan berei.

3 heel vars hoenders

1 liter (4 k) hoenderaftreksel

250 ml (1 k) witwyn

4 uie, geskil en fyn gekap

6 wortels, skoongeskraap en gekap

6-8 peperkorrels

3 heel naeltjies

6-8 knoffelhuisies, gekneus

skil van 1-2 suurlemoene

3-4 takkies pietersielie

3 lourierblare

2 takkies vars roosmaryn

sout en vars gemaalde swartpeper

125 ml (½ k) sago, in water geweek

Verwyder die meeste binnevet van die hoender en plaas saam met die res van die bestanddele, buiten die sago, in ’n groot kastrol of drukpot.

Bring tot kookpunt en kook sowat 15 minute.

Verwyder van die hitte en trek dan al die velle van die hoender af om dit minder ryk te maak (

Plaas terug in die kastrol en kook tot die vleis van die bene afval; dit neem sowat 1 uur.

Verwyder al die bene en voeg die geweekte sago by.

Laat weer goed kook tot die sago deurskynend is; roer gedurig om te keer dat die sago aanbrand.

Verdeel die mengsel in twee en laat goed afkoel.

Maak hoenderpastei en/of lasagne.

ONS RESEP VIR DIE DAG: HOENDERPASTEITJIES

Vir ’n hoenderpastei wat nie so swaar is nie, het ons filodeeg gebruik.

Maak 12 pasteitjies

Gaarmaaktyd: 15 min

1 rol (250 g) filodeeg, ontdooi

gesmelte botter of kleefwerende sproei

1 deel basiese hoendermengsel

Smeer 4 velle filodeeg met botter of spuit met kossproei en pak opmekaar.

Herhaal met nog 4 velle.

Sny in groot vierkante en voer 12 holtes van diep muffinpanne daarmee uit.

Verdeel die hoendermengsel daartussen en vou die bokante goed toe om die vulsel.

VRIES

Bedek die muffinpannetjies liggies met kleefplastiek en vries tot stewig.

Verpak die pasteitjies dan in ’n bak of stewige plastieksak en vries tot latere gebruik.

SIT VOOR

Ontdooi die pasteitjies effe by kamertemperatuur en plaas met die voukant op ’n bakplaat.

Bak by 190 °C tot die vulsel goed warm is en die deeg goudbruin.

As jy hoenders koop met binnegoed en al, moenie die lewertjies weggooi nie; braai hulle en sit by die hoendermengsel.