Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 3-5 minute

SLAAISOUS

50 g vars dragon, fyn gekap

150 ml goeie mayonnaise

50 ml crème fraîche

50 ml gerookte olyfolie (sien wenk)

sout en peper na smaak

SLAAI

3 ryp maar ferm rooiwangperskes, ontpit en in wiggies gesny

50 ml olyfolie

150 g boerboontjies, uitgedop, of mangetout (suiker-ertjies)

150 g vars groen aspersies

500 g gerookte hoenderborsies, ontbeen en in netjiese skywe gesny

1 rooi ui, fyn gekap

2 tamaties, ontvel en ontpit, fyn gekap

120 g bronkorsblare

SLAAISOUS

Klits al die bestanddele saam met ’n handmenger en hou eenkant.

SLAAI

Verf die perskeskywe met olyfolie en rooster op ’n warm gietysterpan, onder die roosterelement van die oond of oor die kole. Rooster sowat 1 minuut aan elke kant tot effe geskroei. Laat afkoel.

Blansjeer die boerboontjies of mangetout en aspersies sowat 30-60 sekondes in kookwater, dreineer en verfris in koue water. Hou in die yskas tot benodig.

Pak die hoenderborsies en perskeskywe op 4 eetborde of andersins op een groot opdienbord.

Rangskik die groente bo-op en sprinkel die gekapte ui en tamatie oor. Drup van die slaaisous oor. Garneer met bronkors.

WENK: Gerookte olyfolie is beskikbaar by goeie deli’s en koswinkels. As jy die rooksmaak ietwat oorweldigend vind, gebruik gewone olyfolie.

Volg Huisgenoot op Twitter.

Huisgenoot 3 Desember 2009