GenoeG vir 4-6 mense

Bereiding: 20 minute

Gaarmaaktyd: 40 minute

40 g koekmeel, met sout en peper gegeur

15 ml (1 e) gekapte vars tiemieblaartjies

gerasperde skil van 1 suurlemoen

6 hoenderporsies (dytjies en boudjies)

50 g botter

2 uie, gekap

250 ml (1 k) witwyn

125 ml (½ k) hoenderaftreksel

125 ml (½ k) suurroom

2 avokado’s, mielietjips en

koljanderblare vir voorsit

Voorverhit die oond tot 180 °C.

  1. Meng die koekmeel met die tiemie en suurlemoenskil.
  2. Rol die hoenderporsies in die meel en skud die oortollige meel af.
  3. Verhit die botter in ’n pan en braai die porsies tot bruin. Skep uit en pak in ’n oondvaste bak.
  4. Roerbraai die uie in die botter tot sag. Sprinkel enige orige meel oor en roer tot glad. Voeg die wyn en hoenderaftreksel stadig by en roer tot die sous kook en verdik het Voeg die suurroom by.
  5. Giet die sous oor die hoenderporsies in die bak, bedek en bak sowat 40 minute of tot gaar en sag. Verwyder die bedekking 10 minute voor die tyd sodat hoender mooi bruin kan word.
  6. Sit voor saam met snytjies avokado, mielietjips en koljanderblare.

Vir ’n wyn-enroomsous met minder vet: Laat die room uit en roer laervetroomkaas net voor opdiening by.