Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 15 minute

Staantyd: minstens 1 uur

Gaarmaaktyd: 1-1½ uur

MARINADE

500 ml (2 k) lemoensap

1 suurlemoen se skil, gerasper

60 ml (¼ k) sojasous

125 ml (½ k) sagte bruinsuiker

15 ml (1 e) heuning

1 rooi ui, in kwarte gesny

3 knoffelhuisies, gekneus

2 ml (½ t) tabascosous

15 ml (1 e) tiemieblare en/of basilie

3 ml (ruim ½ t) aangemaakte mosterd

HOENDER

1 heel hoender, opgebind

sout en vars gemaalde peper

1 lemoen, 2 suurlemoene, 3 lemmetjies, in wiggies en skywe gesny

’n paar heel knoffelhuisies, geskil

botter

’n paar tiemietakkies

’n bietjie hoenderaftreksel of water

natuurlike jogurt

Meng al die bestanddele vir die marinadeen giet oor die hoender. Laat minstens ’n uur of verkieslik oornag staan sodat die geure lekker kan intrek.

Voorverhit die oond tot 200 °C. Plaas die hoender in ’n oondpan, borskant na bo. Geur van binne en buite-om met sout en peper. Plaas die gesnyde sitrusvrugte, knoffel en tiemietakkies rondom. Giet die marinade oor. Vryf botter oor die vel van die hoender en oondbraai 15 minute. Verlaag die oondtemperatuur tot 160 °C en oondbraai nog 1-1½ uur of tot die vleis sappig en gaar is. Smeer tussendeur met nog botter en bedruip et die marinade.

Paas die hoender op ’n dienbord n rangskik die sitrusstukke rondom. Voeg ’n bietjie hoenderaftreksel of water by die pansappe en laat goed kook op die stoof. Kook af tot ’n geurige sous. Roer ’n skeppie natuurlike jogurt by en sit voor saam met die hoender.

Sit voor met ’n vars groen slaai.