Maak 26-30 porsies van 100 g elk

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: 1¼ uur

Baktyd: 20 minute

Koste per porsie: R7,37

Verpakking: papiersakkie

BASIESE HOENDERMENGSEL

3 heel vars hoenders

1 L (4 k) hoenderaftreksel

4 uie, geskil

8 wortels, skoongeskraap

200 g sampioene, in skyfies gesny

6-8 peperkorrels

3 heel naeltjies

6-8 knoffelhuisies, gekneus

repe skil van 1-2 suurlemoene

3-4 takkies pietersielie

3 lourierblare

2 takkies vars roosmaryn

sout en vars gemaalde swartpeper

125 ml (½ k) sago, in water geweek

2 rolle (200 g elk) filodeeg, in groot blokke gesny

gesmelte botter of margarien

Verwyder die meeste binnevet van die hoender en plaas saam met res van die bestanddele, buiten die sago, filo en gesmelte botter, in ’n groot kastrol of drukpot. Bring tot kookpunt en laat kook sowat 15 minute.

Verwyder van die hitte en trek dan al die velle van die hoender af om dit minder ryk te maak. Plaas die hoender terug in die kastrol en kook tot die vleis van die bene afval; dit neem sowat 1 uur. Verwyder al die bene en voeg die geweekte sago by. Laat weer goed kook tot die sago gaar en deurskynend is. Roer gedurig om te keer dat die sago aanbrand.

Verwyder die kruietakkies en heel speserye indien verkies. Vou een vel filodeeg in die lengte dubbel, skep 100 g vulsel op, vou die sykante effe oor en rol op. Herhaal met die res van die deeg en vulsel. Smeer elkeen met gesmelte botter en bak

sowat 20 minute by 200 °C tot gaar.