Behalwe dat ’n eenskottelgereg hope tyd spaar, is die resep propvol geur. Die bockwurst verleen ’n effense gerookte smaak aan die hoeNder en die suur van die wyn komplementeer die gereg.

Sit voor saam met lekker varsgebakte brood sodat jy daardie laaste bietjie sous daarmee kan opvee.

Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 10 minute

Gaarmaaktyd: sowat 40 minute

30 ml (2 e) olyfolie

8 hoenderporsies, boudjies en dye

sout en vars gemaalde swartpeper

8 preie, in skywe gesny

3 bockwurst (sowat 300 g), in skywe gesny sap en skil van 2 suurlemoene

250 ml (1 k) droë witwyn

3 heel knoffelhuisies, geskil

30 ml (2 e) vars pietersielie, grof gekap

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Verhit die olie in ’n groot braaipan of kastrol wat ook in die oond kan gaan (soos ’n gietysterpan). Braai ’n paar stukkies hoender op ’n slag tot goudbruin; geur met sout en peper. Skep die gebraaide hoenderstukkies uit, hou eenkant en braai die res van die hoender. Braai die preie en worsies sowat 3 minute in dieselfde pan. Skep die hoender terug in die pan. Meng die suurlemoenskil en -sap, witwyn en knoffel en giet oor die hoender en worsiemengsel. Bak 30- 40 minute of tot gaar.

Garneer met pietersielie en sit voor saam met varsgebakte brood of romerige fyn aartappels.