Maak 15 klein pannekoeke

Bereiding: 30 minute

Staantyd: 30 minute

Baktyd: 20-25 minute

DUN PANNEKOEKBESLAG

2 groot eiers

200 ml melk

20 ml (4 t) olie

5 ml (1 t) suurlemoensap of brandewyn

250 ml (1 k) koekmeel

1 ml (¼ t) sout

200 ml water

VULSEL

3 hoenderborsfilette, in repies gesny

30 ml (2 e) hoisin-sous

15 ml (1 e) oestersous

15 ml (1 e) sesam- of grondboontjieolie

100 g sneeuertjies (mangetout)

sout en gemaalde swartpeper

4 stingeluie, in repies gesny

30 ml (2 e) boontjiespruite

vars koljanderblare vir garnering

  1. PANNEKOEK Klits die eiers. Voeg dan die melk, olie en suurlemoensap of brandewyn by. Voeg die meelblom en sout by en klits tot al die klonte verdwyn het. Voeg die water by en meng goed. Laat die beslag minstens 30 minute staan.
  2. Giet ’n bietjie olie in ’n pan en laat die pan baie warm word. Giet die oortollige olie uit en bak die pannekoeke. Die pannekoekies is baie sag; hanteer dit dus liggies.
  3. VULSEL Pak die hoenderrepies in ’n bak en voeg die hoisin- en oestersous by. Meng liggies. Verhit die olie in ’n wok of groot pan tot baie warm en braai die hoenderrepies tot bruin en gaar.
  4. Roer die sneeuertjies by en verwyder van die hitte. Geur met sout en peper en roer die stingeluie en spruite by.
  5. Vul die pannekoeke met die vulsel, garneer met vars koljanderblare en sit voor met gepekelde gemmerwortel en sojasous.

Wenke vir die volmaakte pannekoek:

  1. Verf ’n dikboompan met goeie olie.
  2. Maak die pan goed warm en giet ’n dun lagie beslag in, net genoeg om die bodem te bedek.
  3. Skud die pannekoek los sodra die rand styf en effens droog begin lyk en draai dit om.