Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 20 min.

Staan: 30 min. vir marinade; 1 uur of oornag vir hoender

Gaarmaak: 1 uur

CHERMOULA-MARINADE

2 uie, in fyn blokkies gesny

5 ml (1 t) vars gemmer, gerasper

15 ml (1 e) brandrissievlokkies

15 ml (1 e) fyn komyn

15 ml (1 e) paprika

’n hand vol pietersielie, gekap

’n hand vol vars koljander, gekap

2 lourierblare

½ suurlemoen, fyn gekap

125 ml (½ k) olyfolie

sap van  ½ suurlemoen

HOENDER

1,2 kg heel hoender

45 ml (3 e) olie

2 ml (½ t) fyn komyn

2 ml (½ t) fyn gemmer

1 kaneelstok

4 knoffelhuisies, fyngedruk

2 uie, gehalveer en in fyn skywe gesny

sout en peper

2 tamaties, geskil, ontpit en gekap

’n handjie vol vars pietersielie, gekap

’n handjie vol vars koljander, gekap

2 aartappels, geskil en in wiggies gesny

250 ml (1 k) water

  1. Chermoula-marinade: Meng die bestanddele goed en sit 30 minute eenkant sodat die geure kan ontwikkel.
  2. Hoender: Was die hoender en droog dit af. Plaas dit op ’n werkoppervlak met die borskant na onder. Begin by die dykant en knip met ’n kombuisskêr al langs die een kant van die ruggraat. Draai die hoender om en knip al langs die ander kant van die ruggraat. Gooi die ruggraat weg. Maak die hoender oop, draai dit met die borskant na bo en druk op die borsbeen om dit plat en oop te maak.
  3. Vryf die hoender oraloor met 125 ml (½ k) van die chermoula-marinade, bedek en verkoel 1 uur of oornag.
  4. Voorverhit die oond tot 220 °C.
  5. Plaas die hoender in ’n gesmeerde roosterpan en rooster 20 minute. Verwyder die hoender uit die pan. Verlaag die oond se temperatuur na 180 °C.
  6. Plaas die olie, komyn, gemmer, kaneel, knoffel, uie, sout en peper in die roosterpan. Roer om te meng. Voeg die tamaties, pietersielie, vars koljander, aartappels en water by. Sit die hoender terug in die pan en rooster 40 minute of tot die aartappels sag en die hoender gaar is.
  7. Sit die hoender voor met die oorblywende chermoula en die aartappelmengsel.

Deur Hope Malau