Genoeg vir 4 mense (2 stukke hoender elk, met 4 oor vir ’n volgende keer se gebruik)

Bereiding: 10 min

Gaarmaaktyd: sowat 1 uur

1 pak met 12 hoenderstukke (dytjies en boudjies)

sout en peper

60 ml (¼ k) koekmeel

20 ml (4 t) mosterd

500 ml (2 k) hoenderaftreksel

6 knoffelhuisies, geskil en fyngedruk

1 suurlemoen se skil, gerasper

1 suurlemoen, in skywe gesny met skil en al

4 tiemietakkies

2 blikke (400 g elk) botterbone, gedreineer (of vervang met kekerertjies)

Voorverhit die oond tot 180 °C.

Smeer ’n oondbak.

Geur die hoender met sout en peper en pak dit in die oondbak.

Meng die koekmeel, mosterd en hoenderaftreksel tot glad en verhit in die mikrogolfoond tot dit kook en verdik; roer gedurig.

Roer die knoffel en suurlemoenskil by.

Giet die sous oor die hoender.

Rangskik die suurlemoenskywe tussen die hoenderstukke en stapel die tiemietakkies bo-op.

Bedek en bak 40 minute tot die hoender sag is.

Verwyder die bedekking.

Meng die botterbone by die sous in en bak nog sowat 20-30 minute tot die hoender mooi bruin is bo-op.

Sit voor met rys en slaai indien verkies.

Volg Huisgenoot op Twitter.