Ons almal wil graag die perfekte braaihoender berei. Begin met ’n hoë hitte om die vel ’n donker kleur en die kruie bo-op ’n aardse smaak te gee. Verminder dan die hitte om dit stadig binne-in gaar te maak. Dié heerlike hoender kan in skywe gesny en in ’n pita gedruk word vir ’n maklike maaltyd.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 1 uur 30 min.

½ rooi ui, gekap

’n hand vol pietersielie, gekap

’n hand vol koljander

’n hand vol vinkel, gekap

60 ml (¼ k) okkerneute, gekap

3 knoffelhuisies

60 ml (¼ k) olyfolie

15 ml (1 e) rooiwynasyn

sout en peper

1 kg braaihoender

6 pruimtamaties, in die lengte gehalveer

6 pitabrode

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  1. Blits die ui, pietersielie, koljander, vinkel, okkerneute en knoffel in ’n menger. Voeg 45 ml (3 e) olyfolie, asyn, sout en peper by en blits tot glad.
  2. Geur die hoender binne en buite met sout en peper. Maak die vel met jou vingers los. Vryf van die kruiepasta onder die vel en die res aan die buitekant van die hoender.
  3. Bind die hoender vas. Plaas in ’n roosterpan en rooster tot die vel goudkleurig raak (sowat ’n halfuur).
  4. Verminder die oondtemperatuur tot 160 °C. Meng die tamaties in ’n bak met die oorblywende 1 e olyfolie en geur met sout en peper. Bedruip die hoender met die afdrupsels en voeg die tamaties in die pan met die snykant na onder.
  5. Hou sowat 1 uur aan rooster. Geur met sout en peper, en laat die hoender 10 minute rus voor jy dit voorsny. Sit voor met oopgesnyde pitabrood.