GENOEG VIR 6 MENSE

Bereiding: 15 min.

Gaarmaak: 30 min.

1 L hoenderaftreksel

8 hoenderborsies

2 uie, in skywe gesny

sout en vars gemaalde peper

’n hand vol pietersielie, gekap

5 ml (1 t) droë tiemie

50 g botter

2 wortels, in blokkies gesny

250 g sampioene, in kwarte gesny

30 ml (2 e) meel

375 ml (1½ k) kort pasta (soos penne)

500 ml (2 k) room

250 ml (1 k) bevrore ertjies

cheddar en mozzarellakaas

Voorverhit die oond tot 200 °C.

1. Meng die aftreksel en 250 ml (1 k) water in ’n groot kastrol. Voeg die hoender, uie en sout en vars gemaalde peper by en laat prut oor hoë hitte terwyl jy die skuim afskep wat na die oppervlak opkom.

2. Voeg die pietersielie en tiemie by en bedek. Verlaag die hitte en laat prut tot die hoender gaar is. Dreineer in ’n hittebestande bak en hou die aftreksel. Plaas die hoender op ’n snyplank en hou eenkant om af te koel.

3. Smelt die botter in ’n groot pot oor matige hitte. Voeg die wortels en sampioene in die pot en kook 5 min. terwyl jy af en toe roer.

4. Versnipper intussen die afgekoelde hoender.

5. Strooi die meel in die pot en giet die aftreksel in terwyl jy aanhoudend roer. Laat prut 5 min. en voeg die pasta by. Kook 8 min. of tot die pasta amper gaar is.

6. Voeg die room, versnipperde hoender en ertjies by. Plaas die mengsel in ’n oondbak, rasper die kaas oor en bak 10 min. of tot die kaas goudkleurig is.

Deur Hope Malau

Foto’s: Megan Miller