Genoeg vir 4 mense

Bereiding: 15 minute

Gaarmaaktyd: 30 minute

4 hoenderborsies

250 ml (1 k) Mozzarella-kaas, gerasper

’n hand vol vars koljander

250 g streepspekvleis

MIELIERYS

15 ml (1 e) olie

2 uie, in skywe gesny

300 g mielierys

750 ml (3 k) warm groenteaftreksel

sout en vars gemaalde swartpeper

200 g ertjies

200 g groenbone, geblansjeer

400 g spinasie, fyn gekap

60 ml (¼ k) room

1 Voorverhit die oond tot 200 °C.

2 Vlek die hoenderborsies en slaan hulle liggies plat. Strooi die kaas en koljander in die middel van elke hoenderborsie. Rol ’n hoenderborsie soos ’n wors op en draai 3 repe spekvleis om die rol om dit bymekaar te hou. Steek met skemerkelkie-stokkies vas. Herhaal met die oorblywende hoender.

3 Verbruin die hoenderrolle in ’n pan oor gematigde hitte. Skep hulle op ’n bakplat uit en bak 20 minute.

Mielierys: Verhit die olie in ’n pan en braai die uie tot sag. Voeg die mielierys by en roer goed.

Voeg ’n soplepel vol aftreksel by en roer aanhoudend tot dit geabsorbeer is. Herhaal tot die mielierys gaar is. Geur met sout en peper.

Roer die ertjies, bone, spinasie en room in.

Skep die mielierys in bakke vir voorsit. Sny die hoender en rangskik dit op die mielierys.

- Hope Malau