Genoeg vir 6 mense

Bereiding: 10 min.

Gaarmaak: 1 uur 10 min.

30 ml (2 e) olie

600 g hoendermae

2 rooi-uie, in skywe gesny

120 g gerookte varkworsies, gekap

3 knoffelhuisies, gekap

120 g sampioene, in skywe gesny

300 g hoenderharte

250 g hoenderlewers

15 ml (1 e) meel

sout en peper

1 lourierblaar

15 ml (1 e) suiker

300 ml hoenderaftreksel

250 g skilferkorsdeeg

’n geklitste eier, vir glasuring

Voorverhit die oond tot 200 °C.

  1. Verhit die olie in ’n pot oor matige hitte en voeg die hoendermae in sarsies by tot verbruin. Voeg die uie, varkworsies en knoffel by. Kook tot die uie sag is.
  2. Voeg die sampioene, hoenderharte en lewers by en roer die meel in. Kook 2 min. Geur goed met die sout en peper en roer die lourierblaar, suiker en aftreksel in. Bring tot kookpunt en laat prut 30 min. Geur weer en laat afkoel.
  3. Plaas die hoendermengsel in ’n pasteibak. Rol die deeg uit om ’n deksel te vorm. Heg dit aan die bak vas terwyl jy seker maak die rand is verseël. Sny ’n stoomgat in die middel en glasuur met die eier.
  4. Bak 20 min. in die oond. Verlaag die hitte tot 170 °C en bak nog 10 min. of tot die deeg goudkleurig is. Bedek die pastei met foelie as dit te vinnig verbruin.

Deur Hope Malau

Foto: Jacques Stander