Die kombinasie van koud en warm is verfrissend anders.

Genoeg vir 4-6 mense

Bereidingstyd: 15 minute

Gaarmaaktyd: 15 minute

HOENDER

4 hoenderborsfilette

sout en peper

3 takkies pietersielie

2 knoffelhuisies, gekap

gerasperde skil van 1 suurlemoen

PASTA

250 g spaghetti

helfte van ’n 125 g-sakkie sondroëtamatiepesto

200 g kersietamaties, gehalveer

olyfolie

vars pietersielie en basilie

’n paar groen olywe

feta- of bocconcini-kaas, in stukke geskeur

Hoender Plaas die hoender, kruie en suurlemoenskil in ’n glasbak, bedek met kookwater en mikrogolf tot gaar, 7 minute. Laat effe afkoel in die aftreksel, dreineer, maar behou die sous en trek die hoender in stukke met ’n vurk.

Pasta Giet die hoenderaftreksel oor die spaghetti, vul aan met kookwater en kook tot net sag.

Dreineer die pasta en roer die pesto, kersietamaties, olie, kruie en olywe deur die warm pasta. Voeg die hoender by en rond af met die kaas.