Jy kan enige neutolie soos makadamia- of amandelolie gebruik om in te braai – net nie sesamolie nie, want die geur is te skerp.

1 hoender (sowat 1,2 kg)

200 ml grondboontjieolie vir braai

10 knoffelhuisies, geskil

8 cm-stuk vars gemmerwortel, geskil en in skyfies gesny

3 stukke heel kassia of 1 stuk pypkaneel

15 ml hoisinsous

5 – 6 heel droë brandrissies

500 ml aftreksel (resep onderaan)

30 ml ryswyn (mirin)

20 ml sojasous

sout

½ groen of rooi soetrissie, in repies gesny

3 stingeluie, net die groen stukke, in 4 cm-lengtes gesny

5 – 10 ml sesamolie

Sny die hoender met ’n kapmes in happiegrootte stukkies en hou eenkant.

Verhit ’n wok of diep pan oor hoë hitte tot baie warm, voeg 150 ml van die grondboontjieolie by en verhit tot ongeveer 180 °C of tot ’n broodblokkie binne 15 sekondes sal bruin braai.

Braai die hoenderstukkies in die warm olie tot dit vaal verkleur en van die vloeistof verloor het.

Skep die hoender uit met ’n gaatjieslepel en hou eenkant.

Laat die olie weer tot 180 °C verhit en braai die hoender weer in kleiner hoeveelhede per keer tot goudbruin en gaar.

Skep die hoender uit en hou dit eenkant.

Braai die knoffel in die olie tot geurig en skep dit uit.

Giet die olie uit en maak die wok of pan skoon.

Verhit weer die wok of pan oor hoë hitte en giet die res van die grondboontjieolie in.

Roerbraai die gemmer en kassia of kaneel tot geurig.

Voeg die hoisinsous by en roerbraai tot die olie verkleur.

Voeg die droë brandrissies by en roerbraai ’n paar sekondes.

Skep die hoender en die knoffel vinnig in die wok of pan en giet die aftreksel, ryswyn en sojasous by.

Geur met sout en bring tot kookpunt.

Verlaag die hitte en laat prut 10 – 15 minute.

Roer af en toe sodat die geure in die hoender kan intrek.

Keer dit uit in ’n warm opdienbak.

Sprinkel die soetrissierepies, stingeluie en sesamolie oor en plaas dit op ’n tafelbrander.

BASIESE AFTREKSEL

Die aftreksel word nie net as ’n basis vir sop gebruik nie, maar ook vir algemene kook waar vloeistof benodig word pleks van water.

350 g hoenderstukkies, ontvel

350 g varkribbetjie

7 x 250 ml koue water

2 stukke vars gemmerwortel, geskil en gekneus

6 heel stingeluie

25 – 30 ml ryswyn of sjerrie

Sny ekstra vet van die hoender en varkvleis af en sny die vleis in klein stukke.

Plaas die hoender, ribbetjie, water, gemmer en stingeluie in ’n groot kastrol en bring dit tot kookpunt.

Skep die skuim af wat op die oppervlak vorm.

Verlaag die hitte en laat prut 2 – 3 uur sonder ’n deksel.

Giet die aftreksel deur ’n sif en giet dit terug in ’n skoon kastrol.

Gooi die vleis en groente weg.

Voeg die ryswyn of sjerrie by en laat prut weer 2 – 3 minute.

Laat dit afkoel en plaas in die yskas.

Dit sal tot vier dae goed hou in die yskas of dit kan in kleiner bakkies gegiet en gevries word.

Maak sowat 1 liter.